Die graanhanteringorganisasie (GOSA) se 40ste simposium wat onlangs in Mosselbaai gehou is, het die kollig geplaas op hoe die graanbedryf van Suid-Afrika kan innoveer om sy mededingendheid in ‘n meer kompeterende wêreldmark te handhaaf en te verbeter.
Altesaam 280 verteenwoordigers van meer as 70 landboumaatskappye uit die graanwaardeketting het die organisasie se simposium op 18 en 19 Maart vanjaar by Diaz Strand Hotel bygewoon. Verskeie van die sprekers het die huidige en toekomstige kompeterendheid van die plaaslike bedryf toegelig.
Die uitgetrede internasionale rugbyskeidsregter, Jaco Peyper, wat deesdae lid van die bestuur en afrigtingspan van die Springbokspan is, het as spreker parallelle getrek tussen die prestasie van die Bok-span en die werksplek. “In ‘n kompeterende omgewing word jy nie beter deur net te hoop vir die beste nie. Jou span se prestasie moet gereeld gemeet word ten einde hulle vermoë (bates) en hindernisse (laste) te balanseer,” het hy gesê. “Hou die kerndoel deurentyd voor oë en anker jou sukses in kern- fundamentele aspekte eerder as tierlantyntjies en randaktiwiteite wat die aandag aftrek.”

Jaco Peyper, uitgetrede rugbyskeidsregter (middel), een van die sprekers by GOSA se onlangse simposium in Mosselbaai. Saam met hom op die foto, is Johan van Rensburg, nuutverkose president van GOSA (op linkerhand) en Hein Rehr, die uitgetrede president.
Volgens Tjaart Kruger, hoof uitvoerende beampte van Tiger Brands, speel die Suid-Afrikaanse voedselwaardeketting ‘n kritiese rol in ekonomiese groei en voedselsekerheid. Om mededingend in die wêreldmark te bly, moet daar egter sterker samewerking wees oor dié waardeketting heen. Beleggings in infrastruktuur, opleiding en beleidshervorming is noodsaaklik. Mededingendheid in die landbousektor kan verseker word deur deurlopende verbetering van voorsienings-kettingdoeltreffendhede. Dit sluit in beter vervoerstelsels, verhoogde hawe-effektiwiteit asook die verwydering van handel en ander regulatoriese hindernisse.
“Suid-Afrika kan deur ontwikkeling en verbetering groei om meer mededingend te kan wees in ‘n globale mark. Dit sluit in die naspeurbaarheid van produkte en die verbetering van spoorvervoer. Met beperkte hawekapasiteit, sal daar ook na alternatiewe hawens gekyk moet word. Meer doeltreffende wagareas vir vragmotors wat wag om hul vrag af te laai en die verandering na elektroniese dokumentasie, sal doeltreffendheid verhoog,” het dr André van der Vyver, uitvoerende direkteur van Suid-Afrika se graan- en oliesadehandelsvereniging (SACOTA), gesê. Hy is optimisties oor Suid-Afrika se toekoms wat graanuitvoere betref. Om winsgewende uitvoere te verhoog, is kostebesnoeiing en/of die verhoging van effektiwiteit in die waardeketting nodig, asook ‘n fokus op gespesialiseerde of nismarkte en om nie met groot lande te probeer kompeteer nie.
Prof Nick Vink, emeritusprofessor in landbou-ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch, het wat die produksie van lewende hawe, vrugte en groente, en veldgewasse betref aan simposiumgangers uitgewys die Suid-Afrikaanse landbou nie sedert 1961 al in so ‘n gunstige posisie soos tans was nie. Hy sê voorts die waarde van landbouproduksie het meer as verdubbel en die groei daarvan sedert 2013 was ook beter as die res van die ekonomie. Die plaaslike graanbedryf se vergelykende voordeel teenoor ander lande bewys dat Suid-Afrika gereken word as ‘n mededingende produsent en uitvoerder van mielies. Wat sojabone betref, het dit skerp toegeneem in die afgelope jare, maar in die geval van koring is die land steeds nie mededingend nie.
Benewens laasgenoemde sprekers, is drie wegbreek-werkswinkels aangebied:
- Dr Roelof Botha (ekonoom) het sy siening gegee oor groeimoontlikhede in ‘n nuwe politieke dispensasie. Hy het veral verwys na 28 sleutel-indikators wat daarop dui dat die ekonomie in die regte rigting beweeg.
- Johan van den Berg (landboumeteoroloog) het die globale impak van klimaatsverandering en veranderende weerpatrone bespreek.
- Prof Jan Havenga (Universiteit van Stellenbosch), ‘n makrologistieke navorser, het ondermeer gefokus op die herstel van die Suid-Afrikaanse spoorwegstelsel en hawens – en die vordering met die regruk van Transnet.
GP van Rheede van Oudtshoorn (Coppertop Consulting) was die inspirasiespreker en het verteenwoordigers twee keer laat nadink oor die slaankrag van innovasie en kommunikasie. Melding is tydens die simposium gemaak van dr Richard van Wyk, wat elke dag se verrigtinge met ‘n geestelike boodskap geopen het, wat vir die 21ste jaar hierdie funksie vir GOSA verrig het.
‘n Spesiale erkenning is oorhandig aan Hein Rehr, wat sedert 2019 president van die organisasie was en by die algemene jaarvergadering uitgetree het. Hy is reeds 29 jaar lank ‘n lid van GOSA en ook ‘n oudvoorsitter van GOSA Kaap. Onder sy toegewyde leierskap is GOSA se relevansie as platform vir netwerking, gesprekvoering en opleiding in die graanwaardeketting gevestig en uitgebou.
Nuwe leierskap
Hein Rehr (RehrCo.) en Tom Terblanche (Grain Carriers) se termyne as raadslede het vanjaar geëindig terwyl Michal Rehr as voorsitter van GOSA Kaap bedank het. Tydens die algemene jaarvergadering is Stefan van Staden (AFGRI), Ferdinand Meyer (Ronin) en Willem Strauss (RMB) as raadslede herkies. Dawid Beets (Tiger Brands) en Dries van Jaarsveld (Bester Feed & Grain), as waarnemende voorsitter van GOSA Kaap, is op die Raad verwelkom.
Tydens ‘n raadsvergadering ná die algemene jaarvergadering is Johan van Rensburg (VKB) as president en Ferdinand Meyer (Ronin) as vise-president verkies.
GOSA bedank graag vir AGI as hoofborg van die simposium.

Johan van Rensburg van VKB is op 18 Maart vanjaar verkies as president van GOSA.









































